Dit sneeu! Dit sneeu!

Log fire picture 2

Ek lig my traag uit die bed  toe die wekker lui. Dis koud. My kop is effens seer en ek snuif. Verkoue aan die kom. Nee…verkoue het klaar geland. Ek snuit my neus, en strompel by die klein venstertjie verby op pad om koffie te maak.  Dis toe dat my oog die wit vang. Die wit, wit wêreld.

“Dit sneeu!”  Ek skree dit nie, ek is te bewus van my arme wederhelf se droomland waaruit ek hom gaan ruk – hy lê nog met sy neus onder die komberse.. Net sy voorkop en sy wenkbroue steek uit… En ‘n ylerige bos grys hare. Ja, en buitendien, my neus is te toe vir ‘n skree. Ek fluister dit hard en dringend met so ‘n toe-neus snork.  “Mmmm,” sê hy en sit toe dadelik regop. Ons verwondering aan sneeu het nog nie afgestomp nie.

Ek bring twee bekers stomende koffie, maar ek vat net ‘n paar lekker warm slukke van myne toe’s ek by die deur uit, sommer met my selfoon. Nie nou tyd vir kamera gaan haal nie.  Ek hol met my pantoffels oor die wit wêreld en oor die kaal bruin moddekolle en neem fotos. Gou is my vaal skaapvelpantoffels modderbruin.

Ons gas by Meerkat se motor is toe van die sneeu, en omdat dit nou reeds amper 07h30 is, stuur ek vir hom ‘n MMS om te sê Bethesda het ‘n spesiale verrassing vir hom voorberei. O, want byna al ons wintergaste se eerste vraag is: “Wat is die kanse vir sneeu?”  En gewoonlik moet ons hulle teleurstel.

Gou vlieg ons gas se deur oop. Ek neem aan hy hol rond en neem fotos, maar nou moet ek ontbyt maak. Ek het my badtyd verspeel met sneeufotos neem. Oor die nuus hoor ons die Lootsbergpas is toe. Slegte nuus vir ons gas. Hy wou juis daardie pad ry op sy verdere reis. Dan klop hy aan die deur.

Ons verduidelik van die pas en sy gesig val. “Ag ja,” sug hy, “die sneeu is nou ook nie eintlik vir hom iets nuuts nie, hy het twaalf jaar in Engeland gewerk en hy het genoeg van sneeu gehad daar. Maar dis darem mooi.” Ons kry hom so jammer dat ons hom nooi vir ontbyt. On the house.

Dit word ‘n lekker gesels en hy besluit om maar liefs nog ‘n nag oor te bly. Gelukkig is daar niemand ingeboek vir vanaand nie. Maar nou moet ons die man help dink. Want ‘n gas, en veral ‘n alleen-gas, wat meer as drie dae in Bethesda bly, gaan dalk naderhand uit goed uit raak om te sien en te doen. En buitendien, Meerkat moet ontruim word…

Met manlief Uilhuis toe om sy werk daar te gaan afhandel, bel ek rond om te hoor van paaie. Agterpaaie. Die man se voertuig sal dit kan vat en hy ook. Gelukkig werk my wederhelf net van nege to een by die Uilhuis. Sorg dat die boeke op datum is, die geld balanseer, die staf weet wat hulle doen, en dat daar geen ‘loopholes’ is nie.

En gelukkig het ons gas in sy kortbroek en met kaal arms weer die dorpie ingevaar om interessante dinge te sien en te doen. Ek bel vir Won om te sê sy kan maar laat slaap, ons trek eers môre Meerkat se bed weer oor en maak skoon.

Toe my geliefde vir middagete instap, vertel hy dat ons gas met sy kortbroek ‘n sielsgenoot gevind het in die eienaar van die Karoo Lamb (ook ‘n buitelander van weleer)  wat elke dag, somer en winter, in die straat staan en potjiekos maak met net ‘n kortbroek en ‘n kortmouhemp aan.  Ja, hulle staan lekker en kuier in die straat voor die restaurant so met die kolle-kolle sneeu nog op die grond.

So parkeer ons ons toe maar voor die lekker ou stofie wat nou gesellig knetter. Warm oondgebakte beesvleisskywe met rys en groente is ‘n gawe versterking. Maar dit help nou maar nie, my kop is seer.  Vanaand drink ek warm swart tee met suiker en ‘n skoot brandewyn in, en gaan klim vroeg in die bed.

More is nog ‘n dag.

Advertisements

3 thoughts on “Dit sneeu! Dit sneeu!

  1. Oeg ek wens ek was daar om dit te kan sien! Ons gaan elke keer net te laat. Ons kom kuier juis September daar in julle pragtige dorpie wat my hart gesteel het (ek en my man dink al van 2010 af wat ons kan doen vir ‘n geldjie – ons wil bittergraag daar by julle gaan bly oor so paar jaar)

    Wie weet, dalk loop ons julle raak daar in September – ek vat my kinders spesiaal soontoe om die Uilhuis te sien. En om hulle te probeer oorreed om saam ons soontoe te trek! 🙂

    • My man werk van soggens nege-uur tot eenuur in die middag by die Uilhuis. Sy kantoor is net daar waar jy inkom by die Uilhuiskantore om jou kaartjies te koop. Hy sorg dat hulle finansies klopdisselboom loop. So, stel julle voor aan hom. Of vra enigiemand in die straat waar Tutti Graham woon en kom val in vir ‘n koppie tee of koffie! Watter datum kom julle?

      • Wat ‘n wonderlike plek om voor te werk!

        Jong, ons gaan hier by die 21ste September Knysna en Gouritz toe vir so paar dae, en ons kan nie besluit of ons voor dit of na dit of sommer voor en na die tyd moet kuier in julle dorpie nie!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s