SALIG IS DIE ARMES VAN GEES

Tutti Graham tutti@wide-eyed.co.za
Hulle het oom Piet van der Merwe begrawe op ‘n sonnige oggend, Woensdag 14 Oktober in die begraafplaas teen die bult in Pienaarsig. Dit was ‘n hartseer dag. By die van der Merwes se huis was daar ‘n diens met ‘n boodskap van eerwaarde Frank Kraai. Daarna sou daar ‘n diens wees in die VGK, maar die kerk was te klein vir almal wat “Oom Twak” vir die laaste keer wou kom groet, en hulle moes die Gemeenskapsaal oopmaak om vir al die begrafnisgangers plek te maak.
Daar was ‘n huldeblyk deur Belinda du Toit, en ds. Charl du Toit het die boodskap gebring. Hy het vertel dat mense onthou van ‘n ander oom Twak, toe hy nog Piet van der Merwe was en van hoe ‘n intelligente man hy was. Neville Swiers het vertel dat hy voor die oom grootgeword het. Van hoe hy in die berg gesoek en geroep het, dae lank, toe hulle oom Twak nie kon kry nie. Die oom was vir hom soos ‘n pa. (Mense het beaam dat hy wat Neville is, met trane gepleit het by almal om te help soek.) Sommige het gehoor gegee, meeste nie.
Oom Piet van der Merwe, in latere jare beter bekend as “Oom Twak”, was ‘n instelling in die klein gemeenskap van Bethesda. Bedags het hy in die son voor die klipmuur oorkant die Melting Pot in Hudsonstraat gesit of met sy skuifelstappie deur die strate gedwaal. Hy was lief om ‘n twakkie te rook maar aan drank het hy nie geraak nie.
Vir diegene wat die moeite gedoen het om met hom ‘n gesprekkie aan te knoop, hom ‘n broodjie of ‘n bietjie meel te gee, of hom‘n paar rand in die hand te stop vir sy twak, was hy soveel meer as dit waarvoor baie hom aangesien het – ‘n eenvoudige ou boemelaar. By mense wat gaan stilstaan het om te gesels, het hy respek afgedwing. Sy klere was oud en geslyt, maar altyd was hy in ‘n baadjie, hemp langbroek en skoene geklee met ‘n pet op sy kop, sy baard geknip, en diep agter in die dowwe ou oë het ‘n blink, edele en sagmoedige gees geglinster. Saam met sy familie en vriende van lang jare was daar diegene wat die mens agter die dowwe ou oë léér ken het, en hulle was by sy roudiens. Wit, bruin en swart.
Vrydagmiddag 2 Oktober, laterig in die middag, het hy by Abraham se winkel vuurhoutjies gaan koop. As jy die paadjie met die voet stap, sien jy dit is nie so baie ver nie, al sit die van der Merwes se huis doer eenkant waar die ou lokasie altyd was – teen die bult bokant die vervalle ou kerk. Die laaste helfte van die paadjie na sy huis is ‘n eensame paadjie waar nie baie mense ooit stap nie.
Hy het nie Vrydagaand by die huis uitgekom nie. Sy suster Mariaan en sy broer Dawid en die ander familie was bekommerd. Saterdag het sy familie oral rondgevra. Mense naby aan hom het begin soek. Bethesda se polisie het help soek. Maandag het die Graaff-Reinet polisie gekom met honde, maar hulle kon niks kry nie.
Henry Swiers, bekend onder Pienaarsig se mense as “oom Pinga” was een van die manne wat nie ophou soek het nie. Vir Hensy Swiers was oom Piet van der Merwe ‘n rolmodel. Dit was immers hy wat vir Henry geleer het hoe belangrik goeie maniere is. Henry het hom geken toe hy nog die suksesvolle man, Piet van der Merwe was, en selfs na sy ongeluk het Henry nie opgehou om vir hom ‘n heldeverering te koester nie. Daar was manne wat vir hom nog net soveel respek gehad het nadat hy nie meer so helder van verstand was nie. En sewe van hulle het nie ophou soek na die oom nie, selfs nadat die polisie met die honde weg is.
Op Vrydagoggend 9 Oktober, ‘n week nadat die oom verdwyn het, het Henry Swiers nie ver van oom Twak se huis af in die vleie met sy hond geloop en soek toe die hond opgewonde begin blaf en teen hom kom opspring. Daar in die buffelsgras waar die swart klei diep en sag is het hy hom gekry, net ses treë regs van die paadjie wat na sy huis toe lei. Sou hy dalk verdwaal het? Miskien het sy dowwe ou oë hom in die steek gelaat in die aandskemer. Sy broekspype was opgerol om te keer dat hulle nat word in die sagte, nat klei. Die spore sak dieper en dieper weg tot daar waar sy oumens-lyf nie die krag gehad het om uit te kom nie.
Hoe naby moes die mense verby hom geloop het op die paadjie na sy huis toe in die week wat hy daar agter die buffelsgras in die swart klei gelê het. Hulle het ses treë van hom af verbygeloop, maar sy stem was sag en skor. Hy het nie krag gehad om hard te roep nie. ‘n Mens kan maar net hoop dat daardie vlak asempie nie té lank gehou het nie – dat die dors en die fel son hom nie te lank geteister het nie, dat paniek en hopeloosheid nie te lank sy moeë ou lyf geskud het nie.
“Ek het hom geken toe hy nog ‘n deftige man was hier in Pienaarsig,” vertel Henry terwyl hy oor sy hond, Dorings, se kop vryf. Sy pa was Piet van der Merwe wat vir Miss Helen gebou en gehelp beelde maak het vir haar tuin, voor Koos Malgas se tyd. Hy wat oom Twak is, was ‘n voorste bouer – hy en sy broer oom Soeksai. (David van der Merwe.) Toe het hulle hom ook nog nie oom Twak genoem nie. Nee. Hy was ‘n blink man wat vir die boere gebou het. Hy het netjies aangetrek en sy hare so glad agtertoe gekam. Blinkswart hare.. Toe later is sy vrou oorlede en nog later begin hy na ‘n ander vrou vry, maar haar seuns wou niks van hom weet nie. Een aand wag hulle hom in en slaan hom so erg teen sy kop dat die bloed by sy ore uitkom. Die polisie het hom hospitaal toe gevat maar toe hy daar terugkom, toe was hy só. Hy het nooit weer reggekom nie”
Mevrou Mashwan, ‘n onderwyseres by Lettie de Klerk laerskool, vertel op die begrafnis wat ‘n voorbeeldige gesin die van der Merwes al die jare was vir die gemeenskap. “Van die oú Oom Piet van der Merwe se tyd af,” onthou sy, “het mense na sy vrou ant Mita toe gegaan om hulle kinders se geboortes te laat opskryf. Sy vertel van die vier van der Merwe broers – as hulle opkom in die voorstraat dan het almal gekyk. Jy het sommer geweet daardie is Piet van der Merwe se seuns. Oom Twak was die wonderlikste persoon, selfs na die ongeluk was hy nog steeds ‘n man met baie fyn maniere. Ek voel saam met die familie die pyn. Ons het nie verwag dat hy so uit die wêreld sal uitgaan nie.”
Ja, sy storie is ‘n hartseer storie. Nadat hy so geslaan is, het hy begin dwaal. By Belinda du Toit van The Melting Pot het hy elke dag ‘n bord kos gekry.. Hy het maar daar oorkant die Melting Pot teen die muur gesit en wag tot sy vir hom kos bring of stuur. Nooit ingekom en kom pla nie in die restaurant nie, net maar geduldig daar gewag, wetende dat hy sy bord kos sou kry. Daar lê sy klip nou teen die klipmuur waar hy altyd gesit en wag het, en mens kan nie daar verbygaan sonder om die kaal klip raak te sien nie.
Henry Swiers is baie trots op sy hond, Dorings. “Die hond is eintlik ‘n held,” sê Katrina Lottering. “ Was dit nie vir die hond nie, het ons nou nog nie geweet waar die oom is nie!”
En nou is daar net die geel polisielint wat die plek aanwys in die buffelsgras waar die oom in die swart klei gewag en geroep het met sy sagte, hees stem tot die Heiland hom kom haal het; en bo in die begraafplaas in Pienaarsig met sy baie vars grondhopies, daar waar jy afkyk oor die hele Bethesda, is daar ‘n nuwe graf.

Advertisements

8 thoughts on “SALIG IS DIE ARMES VAN GEES

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s