BOETIE EN DIE BRIGADIER

Dis weer die tyd van die jaar wanneer Boetie sy knoffel-oes moet afhaal. En hierdie jaar gaan dit weer eens met ‘n hele feestelikheid gepaard, want Bethesda vier saam met Boetie sy knoffel-oes.
Toe Boetie Bester en sy vrou Pikkie die dag afdraai op die pad wat na Bethesda lei, het hulle nie geweet hoe ‘n groot rol hierdie dorpie nog in hulle lewe sou speel nie. Boetie was toe ‘n Logistieke- en Eisebestuurder in ‘n groot transportmaatskappy, maar sy werk het veel wyer as dit gestrek. Hy het ook mense opgelei en hy het dikwels oorsee gereis om onder andere saam met ‘n ingenieur van die maatskappy bestellings van die groot vragmotors wat motors vervoer na te gaan en goed te keur by die fabriek in Italië. Hy was ook ‘n aandeelhouer in die maatskappy, Cargo Africa Driver Empowerment, ‘n onderafdeling van ‘n baie groot Suid-Afrikaanse vervoermaatskappy. Hy en sy vrou Pikkie was op pad terug van Pretoria af na die Baai waar hulle gewoon het, toe hulle besluit om te loer hoe die dorpie lyk waar die Uilhuis staan. Dit was liefde met die eerste oogopslag en voor hulle die pad terug Baai toe gevat het, was hulle die eienaars van ‘n pragtige plot met ‘n uitsig op die Kompasberg waarvoor menige man sy voortande sou gee. Dit was die ideale wegbreekplekkie vir ‘n hardwerkende man en sy familie. Hulle het so gereeld as hulle maar kon in hulle karavaan op die plot kom bly vir ‘n naweek en die stilte en vrede van Bethesda geniet. Boetie se seun, sy ma en suster was ook versot op die plek.
Die noodlot het toegeslaan op die Bester-gesin toe die maatskappy vir wie Boetie gewerk het hulle deure baie skielik en sonder waarskuwing toemaak. Boetie is deur die maatskappy gestuur om probleme te gaan uitstryk by hulle kantore in Durban en hy het ‘n hele paar weke daar spandeer. Daarna het hy verlof gehad vir drie weke. Hulle het op Bethesda kom uitspan en hy het ‘n afdak met ‘n badkamer en kombuis gebou vir die karavaan. Die dag voor hy moes inval by die kantore in die Baai het hy ‘n oproep gehad van die sekretaresse van die besturende direkteur in Pretoria. “Die besigheid is bankrot meneer Bester, en ek is jammer om jou mee te deel dat wanneer ek nou die telefoon neersit nadat ek met jou gepraat het, word dié ook afgesny. Die kantore op Port Elizabeth is reeds toe. Hier in Pretoria is almal ook reeds weg. Ek gaan nou self hier uitloop en die deure agter my toemaak. Daar is niemand wat jy kan bel nie, die direkteure is almal reeds weg. Dit het op my geval om jou die slegte nuus mee te deel, nie een van die direkteure het kans gesien om jou persoonlik in te lig nie.”
Boetie en Pikkie moes vinnig planne maak. Hulle twee huise in die Baai het hulle so gou moontlik verhuur en voorlopig in hulle karavaan op die erf in Bethesda kom woon. Eers moes hulle die verslaentheid en teleurstelling verwerk dat die mense vir wie hy so getrou gewerk het, hom tot op die laaste oomblik in die duister gehou het. Hulle blink toekoms het voor hulle voete in die stof gelê.
Boetie het ‘n Vaaljapie teen ‘n goeie prys in die hande gekry en gou-gou die trekkertjie in goeie werkende toestand gehad. Hy het sy landjies begin ploeg sonder om te weet wat hy daarin sou plant of saai. Soos dit maar op klein dorpies gaan, het meeste mense geweet van die ramp wat Boetie getref het. Dis toe dat die Brigadier eendag by hom instap. Brigadier Chris Roberts was ‘n man wat op Bethesda grootgeword het en ná sy loopbaan in die polisie na sy geboortedorpie teruggekeer het om te boer met uie en knoffel. Hy was nie ‘n man wat draaitjies geloop het nie – hy het jou sommer tromp-op geloop. “En wat gaan jy nou doen?” het hy gebulder. Boetie was nog besig om die verskriklike ramp te verwerk, en hy het nie ‘n antwoord gehad nie. “Jy gaan met knoffel en uie boer!” het die brigadier gebulder, “ek sal jou leer hoe.” En so het ‘n sonderlinge vriendskap ontstaan Drie oggende ‘n week het oom Chris ‘n draai kom maak om Boetie die geheime van die boerdery te leer en sy vordering te takseer, en hy was beindruk met sy nuwe vriend se handewerk, want Boetie was nog nooit ‘n man wat vir werk geskrik het nie, en Pikkie het net so hard aan sy sy gewerk.
Daardie eerste jaar het hulle uie geplant met hulle eie hande. Daar was ‘n groot oes, danksy die leiding van hulle goeie vriend en hulle eie harde werk. Ook met die bemarking het die brigadier vir hulle goeie raad gehad. Kort voor lank het hulle die plot langsaan begin byhuur en knoffel ook begin plant, en vandag het Boetie ‘n florerende knoffelboerdery. Die brigadier het hom die saad gegee vir die besonderse pers knoffel wat vir hom soveel sukses as knoffelboer gebring het – ‘n geurige, sterk knoffel wat baie gesog is by klandisie en goed verkoop aan supermarkte en groot groentewinkelgroepe. Gereeld soos klokslag het hy daar by Boetie en Pikkie op die stoep kom sit en die werkery gadegeslaan terwyl hy land en sand aanmekaar gesels het. Pikkie het sulke tye koffie aangedra.
Die tweevertrekhuisie het gegroei tot ‘n pragtige en gerieflike huisie en Boetie het ‘n tweede plekkie gebou vir sy ma en suster. Hy het begin om in die stil tye wanneer die boerdery nie so baie van hom verg nie, kroegman te speel by die pub. Hy is ‘n man wat regop staan en nie onder teenspoed gaan lê nie. Sy gemoedelike geaardheid en humorsin het gou gesorg dat hy ‘n groot klomp vriende gemaak het. By die pub is hy baie populêr onder die klandisie. Hy skink vir jou ‘n dop met ‘n groot glimlag en jy kan selfs jou nood by hom gaan kla, want hy is self ‘n man wat al moeilike tye deurgegaan het en sterker anderkant uitgekom het.
Vandag huur hy grond by vir sy boerdery en volg hy in die voetspore van sy goeie ou vriend, oorlede Brigadier Chris Roberts. Ná oom Chris oorlede is het Boetie die titel van Knoffelkoning geërf, want toe het hy al byna net so groot geboer soos oom Chris.. Hy lewer knoffel aan Shoprite en Fruit en Veg en aan ‘n hele paar ander handelaars, maar verwys jy na Boetie as die knoffelkoning, sê hy vinnig en nedering: “Nee wat, die brigadier was die knoffelkoning, noem my maar die knoffelboer!”.
“Die brigadier was ‘n harde leermeester,” vertel hy,. “ja, hy kon hard met ‘n man praat, maar ek was plat, ek het geluister want ek kon nie anders nie. Ek wou leer hoe om te boer en ‘n lewe daaruit te maak. Wanneer sy vrou Liz weg was het hy soms kom vleisbraai of potjiekos eet of sommer net op die stoep kom kuier. Hy het ‘n baie goeie vriend van ons geword.”
“Daar was altyd iets verkeerd met die koffie,” vertel Pikkie met ‘n glimlag. “Dit was te warm of te koud, die beker was te vol of te half, maar later het ek besef dis maar sy manier om my te terg. Dit het hom groot genot verskaf om my konsternasie te sien, maar sy hart was goed. Ek mis hom baie. Vir ons was hy so goed soos goud.”
Dis nou weer die tyd van die jaar wanneer Boetie sy knoffel-oes inbring en in Graaff-Reinet en die Baai lewer, en wanneer hy sy oë laat gaan oor die sakkies knoffel wat so gesog is op die markte, dink hy altyd maar terug aan sy goeie ou vriend wat op die regte oomblik in sy lewe ingestap het en ‘n helpende hand na hom uitgesteek het. Bethesda se mense weet, dis nie sommer elke man wat by Chris Roberts hulp gekry het nie, en dis nie elke man wat met Chris Roberts oor die weg gekom het nie. Daardie was ‘n besonderse vriendskap. Vir die een het dit ‘n nuwe manier gebring om ‘n lewe te maak, vir die ander ‘n kosbare vriendskap wat vir ‘n eensame man soos sonskyn oor sy oudag kom skyn het en sy dae gevul het met warm en egte vriendskap.

 

Advertisements

2 thoughts on “BOETIE EN DIE BRIGADIER

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s