AUNTIE EVELYN SE SOPKOMBUIS

Ons leef in moeilike tye. Rondom ons sien ons werklose mense. Party wil sommer net nie werk nie, maar baie begeer ‘n werk, ‘n vaste inkomste wat hulle met hul eie hande verdien, ‘n eie huis, om vir hulle huismense te kan sorg en om ‘n blink toekoms te kan hê.
Terwyl ons eie land se mense verarm, en meer en meer mense die land instroom van buurlande af waar kos en ‘n inkomste nog skaarser is, sien ‘n mens telkens in arm gebiede dat daar ‘n mens vorentoe tree wat die ellende aansien en net eenvoudig iets daaromtrent moét doen. Hierdie mense kom uit alle rasse en tale, party is ryk en ander is net so brandarm soos die mense wat hulle probeer voed. Arm of ryk, hierdie mense wat ‘n jammer hart vir ander het, kry maar altyd ‘n seën van bo, en al moet hulle soms raap en skraap om te kan doen wat hulle voel hulle moét, lyk dit tog asof daar seën deurbreek en hulle maand na maand, jaar na jaar dit regkry om meer en meer mense te help.
Daar is veral onder hierdie barmhartige Samaritane wat bestaan uit mans en vrouens, alle rasse, ouderdomme en inkomstevlakke, een groep wat nie sommer ‘n kind kan sien honger ly nie – wat maar nog enetjie invat en versorg, al is dit die oorlede buurvrou se kind of kinders…. Ons moet ons hoed afhaal vir daardie Afrika mamas, so baie keer omring deur armoede en ellende, wat teen wil en dank voortbeur en mense help. Net omdat sy nie anders kan nie. Net omdat sy nie tevrede in haar huisie kan sit en haar broodjie eet terwyl daar honger kinders in die straat is nie.
Voor Auntie Evelyne se huis in die laaste straat van Pienaarsig, heel aan die noordwestekant, dans ‘n klomp meisiekindertjies dat die stof so staan. Hulle ouderdomme is so van agt na veertien. Soms is daar klein kindertjies by, en middae na skool sit seuns en meisies aan die tafels van haar restaurant en huiswerk doen, kinders wat daar by haar so tuis is asof dit hulle eie huis is. En sy is kwaai met hulle as dit nodig is, hoor! Maar die kinders is vrolik want hulle magies is vol en daar is boekrakke met boeke om te lees vir die wat klaar is met huiswerk. En kort-kort gaan speel ‘n klompie in die straat voor die huis.
Auntie Evelyne is die vrou van Phillip Oliphant, die munisipale klerk op Bethesda. ‘n Gewaardeerde man wat sy bes doen om orde te handhaaf, al moet hy baie keer self vroeg soggens perde en donkies uit die strate jaag.
Sy vertel hoe sy in 2007 uit die hospitaal gekom het, baie siek met ernstige diabetes. Sy kon nie loop nie. Sy sê daar in haar huisie in Pienaarsig het die Here met haar gepraat en sy het geweet sy moenie vir haarself jammer wees nie, sy moet die mense daar buite help. Die wat sieker as sy is, die wat besig is om te sterf, en die wat swaarder kry as sy. Dis hoe dit gekom het dat sy die Hospice gekontak het en begin het om kos te kook vir die mense onder hulle sorg. Kos wat van haar eie tafel af gekom het. Kos wat sy en Phillip uit hulle eie sakke betaal het. Want die besluit was nie net hare nie, sy en haar man Phillip en haar dogter Juliette het ‘n vergadering gehou en hulle het saam besluit om hierdie ding te doen.
Auntie Evelyne het toe al haar restaurant gehad. Sy vertel dat na haar besluit ‘n tiende van haar inkomste het gegaan om die polisie, honger skoolkinders en die créche se kindertjies kos te gee. En as die tiende te min is, las sy maar by uit haar eie kosgeld. Baie gou het honger mense na haar plek begin stroom om 12h30 ‘n bord kos te kry. Daar voed sy mense tussen die ouderdom van 2 en 59. As sy van jonger en ouer mense weet wat kos nodig het, word dit na hulle gestuur. Vir die wat te siek is om te kom kos haal, stuur sy ook.
Daar is ‘n klompie kinders wat soggens kom toebroodjies haal voor skool. Auntjie Evelyn kan nie eintlik sê hoeveel nie, want dit wissel. Maar daar is altyd brood, want ‘n vrou van Johannesburg skenk nou die brood op ‘n deurlopende basis en daar is ‘n vrou van Bethesda wat somtyds grondboontjiebotter en jam koop. Vir hulle sê sy baie dankie.
Jagtyd gee meneer Flippie Loots en meneer Rubidge van Wellwood vir haar wild om potjiekos te kook. Sy praat met groot dankbaarheid daarvan en vra ook dat dit genoem moet word dat hulle hulp so baie beteken vir die honger mense van Pienaarsig. Sy vertel met ‘n glimlag dat hulle dit ‘n “Sopkombuis” noem, maar sy kook nie eintlik baiekeer sop nie. Sy kook elke dag ‘n ete, maar daar gaan groente in en vleis wanneer daar is. Daar is ‘n spyskaart.
“Pastoor du Preez van die Africa Gospel in Johannesburg gee die rys, samp en soya,” vertel sy. Vir alles is sy baie dankbaar.
“Maandae kry hulle samp,” sê sy, “Dinsdae iets anders. Nooit dieselfde twee dae na mekaar nie. Daar is altyd dertig tot veertig kinders vir middagete, en ek gee ook vir die oranjepakke kos. Maar die kinders is die belangrikste.”
Sy mis vir oorlede Oom Stirling Retief en sy vrou tannie Rien wat nou by haar dogter woon. Sy sê toe hy nog hier was en veral toe hy nog die winkel gehad het, het hy gereeld vleis en bene uit sy slaghuis gestuur, en uit die winkel uit samp, rys, meel en droë bone. En “Suster” soos sy tannie Rien noem, het soms groenbone uit haar tuin gestuur. (Tannie Rien was vroeërjare klinieksuster in Bethesda.)
Auntie Evelyne vertel van die koor en die kinders wat daar by haar sit en leer brei. Sy sê soms stuur mense ou klere wat sy dan verkoop om kos mee te koop. Die koor is baie bekend op Bethesda. Hulle tree gereeld op, net wanneer daar geleentheid is. En soms sing hulle sommer in die straat. Vrolike, dansende kinders. Maar as daar gewyde liedere gesing word, staan hulle stemmig bymekaar.
Sy sê kinders kom praat as daar probleme by die huis is. Dan bid hulle saam.
“Gebed is baie belangrik,” sê sy. “Gebed het al baie dinge opgelos.”
Auntie Evelyn het streng reëls vir die wat kom eet. Mense mag nie vuil of dronk daar aankom om te kom eet nie. Kinders mag nie speelgoed saambring nie en die ooms mag nie messe of kieries bring nie. Hulle hou godsdiens voor ete en hulle moet betyds wees daarvoor. Almal moet 12h30 daar wees en eenuur eet hulle.
“Ons is ‘n NGO,” sê sy, “ek moet dinge reg doen.”
Die groentelorrie hou voor die deur stil maar sy stuur hom weg, “Kom netnou, ek is nou te besig.”
Dan daag daar onverwagte kuiergaste op. Dis haar broerskind John Jansen van Port Elizabeth, ‘n netjiese kêrel met sy mooi vrou en drie seuntjies. Hy het onder Auntie Evelyn grootgeword, vertel hy, destyds nog op die plaas Doornberg waar sy toe gewerk het. Sy is maar soos ‘n ma vir hom, en jy kan die blydskap sien oor dié kuier. Hy werk by Volkswagen. Trots vertel hy: “Ek is die messenger van die Managing Director.” Onder in die straat voor Auntie Ewwie se huisie staan die mooi kar waarmee hy daar aangekom het.

Advertisements

3 thoughts on “AUNTIE EVELYN SE SOPKOMBUIS

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s