‘n Nuwe jaar

2015 lë soos ‘n skoon bladsy voor my – onbekend, in mis gehul lë die paadjie van my lewe voor my. Ek het oud genoeg geword om te weet dat nie alles wat in hierdie jaar opgesluit lë my tot groot uitbundigheid sal stem nie. Ek het geleer dat die lewe soms rof met ‘n mens kan werk, en daarom is daar ‘n mate van huiwering in my wanneer ek my voet op nie paadjie van hierdie nuwe jaar plaas.
2014 was ‘n harde jaar. ‘n Jaar van baie trane. Ons het ons 22 maande oue kleinseun Benjamin aan die dood afgestaan. Ons het ons kinders sien buig onder die pyn wat vir ons erg was, maar vir hulle erger. Ons het ook gesien hoe braaf hulle is, hoe sterk hulle probeer wees, hoe hard hulle probeer om daar te wees vir hulle 3jarige klein Noah wat genadiglik nog daar is om hulle lewens met lag en verwondering te vul.
Daar was ander pynlike dinge, maar ook groot vreugdes. Tog oorskadu die dood van ‘n ‘n klein kindjie al die ander dinge.
Met die wysheid van baie geleefde jare kyk ek na die 361 dae wat voor my lê. Ná laasjaar kan mens seker statisties verwag dat dit ‘n beter jaar sal wees. Rede tot optimisme. Tog weet ek my lewenspad is vir my uitgelê – die keuses wat ek maak sal dit in ‘n rigting stuur, maar daar is lewenslesse vir my in hierdie jaar wat van my ‘n meer bruikbare mens sal maak as ek hulle goed leer. En ja, daar is vreugdes wat my Hemelse Vader vir my soos geskenkies langs die pad neersit. Mag ek altyd die oë hê om die genadegawes raak te sien en te waardeer.
Ek wil stil word hierdie jaar. Ek wil minder spasie opeis. Minder gehoor word en meer luister. Minder egoisties wees, minder oor myself bekommerd wees, minder eis van ander. Meer gee – die genade hê om meer te kan gee. Ek wil die gawe hê om kommerloos en met oorgawe te kan gee. Aan my man, my kinders, my kleinkinders en my vriende. Aan die mens wat my gee nodig het. Ook aan hulle vir wie ek nie so maklik wil gee nie – die wat anders is as ek, anders dink en doen en my verontwaardig maak. Ek wil leer om hulle te kan toelaat om te wees wie hulle is. Ek wil leer om meer verdraagsaam te wees en minder veroordelend. My wederhelf sal sê ek het al ‘n entjie op hierdie pad gekom, maar ek dink daar is groot ruimte vir verbetering.
Ek wil leer om gemaklik te wees daarmee dat ek nie die middelpunt is nie. Ek wil leer om nie op my perdjie te spring wanneer ek dink iemand werk snoep met my nie. Ek wil gefokus wees en produktief – ek wil genoeg kan wys wat ek gemaak het, geskryf het, vermag het, al is ek in my aftreejare. Ek het besef dat mens se verantwoordelikheid om iets goeds voort te bring nooit eindig nie.
Ek wil genoeg potte bak, genoeg artikels skryf vir die Advertiser, ‘n roman aanpak en ver voer – dalk nie heeltemal klaarmaak nie, maar naby klaarmaak sodat ek dit volgende jaar net kan afrond.
Ek wil vroeg soggens in my tuin uitgaan en my Skepper ontmoet. So wil ek my dag begin, elke dag. ‘n Dag só begin, draai net eenvoudig anders uit. Word ‘n dag van oorwinning. Ek wil tyd in die Woord spandeer. Genoeg tyd.
Ek wil voluit lewe en voluit liefhê.

Advertisements

6 thoughts on “‘n Nuwe jaar

  1. Mooi gestel, Tutti. Ek het ook altyd ‘n oomblik van benoudheid voordat ek my voete op ‘n nuwe jaarpaadjie moet neersit. Sommige van die dinge waarvoor jy wens, raak soms so onbewustelik deel van ‘n mens se lewe, maar ander het harde werk nodig, veral in die hitte van die oomblik. Vir die praktiese dinge, dink ek, moet ‘n mens ‘n lysie iewers hê, plus ‘n plekkie waar jy dit kan aftik. Dis wat ek wil doen – my lysie iewers opsit waar ek dit gereeld kan sien.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s