DIE WINTER IS HIER, MAAR SO OOK INTERESSANTE BESOEKERS

Die langnaweek het gekom met ligte ryp Saterdagoggend om die nat Bethesda nog ‘n bietjie kouer te maak.  Gelukkig het ons toe reeds die suurlemoenboom sy wit jassie aangetrek vir die winter.  Dit was my en my geliefde se kookbeurt by die Tennisklub, en ek het gedink ons sal nie baie siele wees daar nie.  Die bane was nat en die paaie in dorp toe so glad soos seep.  Boonop het party van die gereelde klubgangers gaan visvang by Breerivier en ander het in Kaapstad gaan kuier.  So ek het besluit op sop en brood vir so tien mense, en daarna twee slaaie en gebakte ertappels.  Heel eenvoudig. 

Saterdag hol ek rond om twee artikels aanmekaar te slaan vir die Advertiser.  My meesterartikel waaraan ek baie hard gewerk het, is ‘n bietjie skerp en sal ons dorpie nie juis goed doen nie.  Daar is ‘n paar van ons wat kwaad is vir ‘n man wat baie onverantwoordelik is met sy hond.  ‘n Hele paar van ons.  En ons is baie kwaad.  Maar miskien moet ek hom los om self verantwoordelik op te tree…. hy toon byna tekens dat hy dat gaan doen.  So, op die advies van ‘n goeie vriend, uit met die artikel. 

Gelukkig is Emma Haines hier en sy sing saam met die Kingswood College the jazz band en is besig om naam te maak!  ‘A rising star’…. sommer ‘n heerlike artikel.  Ek ontmoet haar by die Village Inn.  Daar kuier ons heerlik, ek met ‘n koppie koffie en sy en haar ma, Charmaine, met ontbyt.  Ai, hoe heerlik is dit om jonk te wees met die vooruitsig van ‘n pragtige matriekafskeidrok en drome oor volgende jaar se studies! 

Van daar af ry ek na Auntie Evelyn om materiaal bymekaar te kry vir ‘n artikel oor haar sopkombuis waaruit sy baie kinders kosgee elke dag. 

Ek land agter ‘n motorfiets met ‘n syspan wat rustig in die grondstraat voor die Tennisklub afry op pad middedorp toe.  Wat ‘n sjarmante, ouwrererdse vervoermiddel!  Die mense is duidelik sensitief vir die rustige kleindorpse atmosfeer en ry stadig en rustig.  Hier is juis ‘n groepie mense wat sulke motorfietse ry, wat die pragtige ou Uitkyk gekoop het as ‘n vakansiehuis.  Dit moet seker van hulle wees.

By die huis gekom vertel ek my ou maat daarvan. 

“O, ja,”  roep hy uit, “ek het ses syspan motorfietse die dorp sien inry gister laat. Dit moet sekerlik die mense van Uitkyk wees.”

Hulle pas vir my in die dorpie, net soos Terry Winship se ‘Bagdad Cafe”- styl bordjie vir my pas. ‘n Klein bordjie, so groot soos ‘n lei met gekleurde liggies wat verklaar:  “OPEN”.    Ons sal nie groot geraas en flitsende neonligte hier verwelkom nie, maar interessante en smaakvolle styl is baie welkom. 

Ons dorpie is tog aan die verander, al wil ons dit keer.  Ons moet net versigtig wees watter veranderinge ons hier toelaat. 

 

 

Advertisements

6 thoughts on “DIE WINTER IS HIER, MAAR SO OOK INTERESSANTE BESOEKERS

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s